Watter Britse koninklike kry volgende die strop om die nek? Wat gaan Catherine in Australië dra en gaan ons nuwe foto’s van prins George sien? En wie is Georgie se nuwe oppasser regtig? Ons koninklike kenner deel die jongste nuus uit die Kensington-paleis.
Georgie op pad na Doer Onder

In 1983 is prins William op een jaar oud Australië en Nieu-Seeland toe (links); volgende maand herhaal die geskiedenis hom wanneer einste William, Catherine en prins George (regs) ’n soortgelyke toer onderneem.
Dis amper tyd vir die Groot Koninklike Toer. Die een waarna koninklike bewonderaars soos ek reeds maande lank uitsien.
Ja, natuurlik gaan Catherine se klerekas, soomlyne en aandtabberds ons uitasem aan die klik op webtuistes hou, maar dit is mos eintlik die rondewang- prins George wat almal wil sien.
En met dié dat die koninklike geskiedenis hom herhaal, moet ons daarop voorbereid wees om baie foto’s van prins Charles, sy jong vrou Diana en hul eersteling, einste William, in die fotogalerye raak te sien.
Want George sal met die Nieu-Seelandse en Australiese toer aanstaande maand nege maande oud wees. William was ’n jaar oud toe hy in 1983 saam met sy ouers na Australasië gereis het.
Dit was met dié toer dat Diana se sterstatus gevestig is terwyl reuse skares hoorbaar gekreun het nadat hulle ure lank gestaan en wag het . . . net om aan prins Charles se kant van die straat te staan!
En natuurlik is die kroon gespan toe die blondekop-prinsie saam met sy ouers in Nieu-Seeland ’n nuuskonferensie bygewoon en ons hom sien kruip het, met pa in sy netjiese donkerblou pak vinnig agter sy seun aan.
Hopelik sal daar met dié toer vele geleenthede wees om die jonge Cambridge ook in aksie te sien. Tans lyk dit darem of ons hom op minstens twee geleenthede sal sien, een by die Taronga-dieretuin in Sydney.
Hy sal net twee aande nie by sy ouers wees nie, en al is hy nog so klein, breek George reeds koninklike tradisie deur saam met sy pa in dieselfde vliegtuig te reis. William en Charles het destyds dieselfde gedoen, maar koninklike protokol bepaal eintlik dat troonopvolgers nie saamvlieg nie.
Ek sien veral ook uit na Catherine se aandtabberds en hopelik tiaras, diamant- en saffierarmbande en halssnoere uit die koningin se juwelekissie!
Dit sal interessant wees om te sien presies wat uit die koningin se privaat juweliersversameling aan Catherine geleen word, soos borsspelde wat ’n spesifieke verbintenis met Nieu-Seeland en Australië het.
Waarna ek die meeste uitsien
- Gaan Catherine haar haarstyl verander? Dalk korter?
- Gaan haar roksome inderdaad langer wees as met haar en William se Kanadese toer, en gaan daar meer ontwerpersrokke te sien wees as kleinhandelnommers?
- Ek wil graag ook Diana se horlosie aan Catherine se pols sien. William het sy ma se horlosie glo vir haar gegee as geskenk ná George se geboorte.
Wat weet ons van Maria Borrallo?
Vir die duur van die toer sal William opgepas word deur sy nuwe Spaanse babawagter, Maria Teresa Turrión Borrallo. Sy word op die oomblik nog touwys gemaak deur Barbara Barnes, wat jare gelede William se oppasser was en tot nou met George se grootmaak gehelp het.

Barbara Barnes en klein William kom in 1983 terug van Nieu-Seeland af in Engeland aan. Foto: Glenn Harvey/REX
Die paleis is taamlik snoep met inligting oor en foto’s van Maria (43). Wat ons van haar weet, is dat sy beslis toegerus is om van ongewenste paparazzi ontslae te raak – sy het haar opleiding ontvang aan die beroemdste nanny-skool in die wêreld, Norland College in Bath, en daar leer ’n mens onder meer selfverdediging en om vinnig in ’n motor van ongewenste fotograwe weg te jaag.
Dié kursus is peperduur en kos meer as R215 000 per jaar.

Hierdie foto van vermoedelik Maria met ’n stootwaentjie wat net soos George s’n lyk, is in Hyde Park deur die Spaanse TV-stasie Cuarto geneem.
Maria het 20 jaar gelede, nadat sy haar onderwysdiploma verwerf het, Engeland toe verhuis om Engels te leer. Haar oorlede pa was ’n ingenieur en haar ma, wat ook ’n ruk in Engeland gewoon het, leer kinders met gestremdhede om Engels te praat. Hoewel die gesin baie welgesteld was, het hulle nooit in glanssirkels beweeg nie. Maria is ongetroud en is diep godsdienstig, in so ’n mate dat haar klasmaats haar op skool “santa” (heilige) genoem het. Sy is glo skaam en ’n baie goeie mens, sê haar oud-klasmaats.

Hierdie foto van Maria as ’n skoolmeisie het in die Spaanse koerant El Mundo verskyn.
Wie trou volgende?
Terwyl die Cambridges Australasië verower, sal die kollig hopelik minder fel op Harry en sy Cressida val. Ek stuur my nog nie te veel aan gerugte dat Harry gereed is om verloof te raak nie. My geld vir die volgende koninklike troue is op prins Andrew se oudste, Beatrice, en haar jarelange vriend, Dave Clark.
- Arlene
Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Daar is min mense wat so baie soos sy van koningshuise oor die wêreld heen weet en daarom is sy Huisgenoot se koninklike kundige.