Prins Harry en Cressida Bonas het vroeër vandeesmaand ’n liefdadigheidsgeleentheid by Wembley-arena bygewoon
Cressida Bonas moet na bewering “prinsesklasse” bywoon om haar voor te berei op ’n lewe as lid van die koningsgesin voor prins Harry later vanjaar die jawoord vra.
Cressida Bonas (25) kry opleiding oor hoe om met die media om te gaan en hoe sy haar in die openbaar moet gedra sodat sy gereed is wanneer Harry (29) haar later vanjaar vra om te trou.
’n Bron het aan die Daily Star gesê: “Die paleis het reëlings getref toe Harry sy kantoorwerk vir die weermag in Londen begin. Dit word beskou as ’n teken dat dinge tussen hom en Cressida ernstig begin raak. Harry het ’n nuwe span om hom en hul rol is om die paartjie raad te gee. Cressida se ma berei haar al jare voor; die opleiding het nou net ’n graad moeiliker geraak. ’n Mens kan dit prinsesklas noem.”
Harry gaan die jawoord glo voor sy 30ste verjaardag in September vra. Hy en Cressida is al amper twee jaar saam.
Dit blyk egter of die vrye gees (sy is lady Mary-Gaye Curzon se dogter) ’n swaar pad moet stap; sy word reeds vergelyk met die hertogin van Cambridge, wat as Kate Middleton (32) bekendgestaan het voor haar troue met prins William (31) in 2011.
Die bron verduidelik: “Die paleis was ontsteld toe hulle sien hoe sy in die openbaar haar hare gesit en vleg het. Kate sal nooit so iets doen nie.”