’n Vrou wie se seun aan dieselfde toestand as Oscar Pistorius ly, het al die pad van Ysland af Pretoria toe gereis om die Paralimpiese atleet tydens sy verhoor by te staan.
Sy is baie ontsteld oor die hofsaak en kan nie uitgepraat raak oor wat Oscar die afgelope nege jaar vir haar gesin beteken het nie.
‘Oscar is ’n goeie mens en ’n mens voel veilig en gerus wanneer hy naby is.’
“Oscar is ’n goeie mens en ’n mens voel veilig en gerus wanneer hy naby is,” het Ebba Gudny Gudmundstottir aan Sapa gesê.
“Hy sorg vir sy vriende en staan hulle by. Hy is baie vrygewig met sy tyd, liefde en empatie. Hy is net baie spesiaal. Dit is dus vir my baie moeilik om te verstaan wat nou hier aangaan.”
Ebba, wie se ma saam met haar Suid-Afrika toe gekom het, het sedert die begin van die verhoor in die agterste ry van die hooggeregshof in Pretoria gesit. Sy het gehuil toe die patoloog prof. Gert Saayman Reeva se wonde beskryf het.
“Hy het nou vriende nodig en dis hoekom ons hier is. Hy het ons ondersteun en ons wil nou dieselfde vir hom doen,” het Ebba gesê.
Haar agtjarige seun Halli is soos Oscar sonder fibulas gebore. Albei sy bene is op 11 maande afgesit.
Ebba het vertel sy het in die 20ste week van haar swangerskap gehoor haar seun gaan sonder bene gebore word.
Sy onthou hoe bekommerd, bang en verward sy was omdat daar nog nooit so ’n geboorte in Ysland opgeteken is nie.
Sy het toe “double amputee” gegoogle en ’n foto gekry van Oscar by die Paralimpiese Spele in 2004 in Athene.
“Ek kan nie vir jou sê hoe gelukkig ek was [toe ek die foto sien] nie, want ek het nie geweet wat dit vir my seun sou beteken om sonder bene te leef nie,” onthou Ebba. “Ek het niemand met dié gestremdheid geken nie; om die foto te sien was soos ’n wonderwerk.”
Ebba vertel haar ma het ’n joernalis gekontak wat ’n onderhoud met Oscar gevoer het, en het hom gevra om Oscar vir sy onbedoelde ondersteuning te bedank.
Haar gesig helder op as sy onthou wat Oscar geantwoord het. “Hy het teruggeskryf en gesê ‘Hi, ek’s Oscar Pistorius. Het julle my gesoek?’ met ’n glimlaggende gesiggie daarby,” vertel sy.
“Hy het gevra hulle moet net laat weet as daar iets is waarmee hy kan help.”
Hulle het briewe begin wissel, en toe hy ’n jaar later Ysland toe moes gaan, het hy gevra om hulle te ontmoet.
Die Gudmundstottirs het hom oorgenooi en sê dit het hulle gemoedsrus gegee om te sien wat Oscar alles vermag het.
“Oscar was ongelooflik hoflik en gaaf. Hy het grappies vertel en was baie goed met my kinders. Dit was baie duidelik watter soort mens hy is,” vertel Ebba.
Hulle het hegte vriende geword en die gesin het Engeland toe gereis om Oscar aan ’n byeenkoms te sien deelneem.
Ebba onthou hoe Oscar by een byeenkoms ’n goue medalje gewen het: “Hy het na ons aangehardloop gekom en sy medalje om my seun se nek gehang met die woorde ‘Dis vir jou’. Halli het gestraal.”
Oscar het Halli ook gewys dat hulle “dieselfde” is, en dit het die seuntjie net nog trotser laat voel.
“Halli was so bly, want in Ysland is hy altyd ál een wat nie bene het nie; dit was lieflik van Oscar om dit te doen,” sê Ebba.
Sy is op pad terug Ysland toe, maar haar ma gaan nog ’n ruk aanbly.