Die Menseregtekommissie (MRK) het vandeesweek bevind die TV-joernaalprogram Carte Blanche moet die ouers van die vermoorde Matie Inge Lotz verskoning vra, berig Beeld.
Dié program het in September 2008 ’n insetsel met Inge se lyk uitgesaai. Inge se ouers, prof Jan en mev. Juanita Lotz, het toe ’n klag oor dié uitsending by die MRK ingedien.
Volgens die MRK het Carte Blache die Lotze se reg op privaatheid en waardigheid geskend deur dié foto’s uit te saai wat die polisie op die moordtoneel geneem het, berig Beeld.
Inge se lyk is op 16 Maart 2005 in haar woonstel in Stellenbosch aangetref. Beeld berig die MRK het bevind die uitsaai van die foto’s was nie in die openbare belang nie.
Selfs al was dit in die openbare belang, moes Carte Blanche vooraf Inge se ouers in kennis gestel het daarvan, berig Beeld.
Carte Blanche moet nou binne ses weke aan Inge se ouers verskoning vra.
Bronne: Beeld.com, Legal Brief