As jy alewig smag na ’n soet dingetjie of gedurig lus word vir ’n sigaret of alkohol, kan jy dié hardnekkige begeertes speel-speel klop met een van die mees geliefde videospeletjies ter wêreld: Tetris.
Navorsers aan die Universiteit van Plymouth in Engeland het bevind net drie minute van dié legkaartspeletjie kan jou hunkering na geheime plesiertjies demp, berig theguardian.com.
“Wanneer jy lus word vir iets, duur dit gewoonlik net ’n paar minute,” verduidelik professor Jackie Andrade van die universiteit. “In dié tyd het jy gewoonlik ’n denkbeeldige prentjie van dit waarvoor jy lus is en dink jy hoe lekker dit sal wees wanneer jy dit kry.
“Maar as jy vir ’n kort rukkie Tetris speel, keer jy jou brein om te fokus op die denkbeeldige prentjies, en sonder daai prentjies verswak jou lus.”
Tetris, wat vanjaar presies 30 jaar gelede in Moskou, Rusland, bekendgestel is, is al deur 125 miljoen mense in 50 lande gekoop, berig cnn.com. ’n Gratis weergawe vir jou rekenaar of slimfoon is beskikbaar.
– Christiaan Boonzaier