Klik hier vir die melktert-resepte – of rol af tot onder
Ons kosrubriek-skrywer Mari-Louis Guy en haar boet Callie het gaan aansit by ’n lang tafel in die hoofstraat van hul hartsdorp, Lutzville, en dit het hulle geïnspireer om drie hul gunsteling-melktertresepte te deel.
KOKKEVILLE EN MY MENSE!
Verlede naweek sak ons toe af na die pragdorpie Lutzville, daar op die rand van Namakwaland.
Die innoverende mense van Lutzville het besluit om “Kokkeville” te hou, ’n kompetisie geskoei op die gewilde kykNET-kosprogram, Kokkedoor.
Dit behels toe ses kookspanne van 10 elk wat ’n viergang-fine dining-maaltyd vir 50 gaste moes voorsit.
Die altesaam 300 gaste het aangesit by die allermooiste gedekte lang tafel straataf voor die NG Kerk.
Ons, dis nou ek en broer Callie, het verlede jaar deelgeneem aan Kokkedoor as gasbeoordelaars in die basaar-episode; en dit was juis Hetta Van Deventer-Terblanche en Marinda Engelbrecht (die vrou met die immerrooi lippe) van Kokkedoor wat saam met ons Kokkeville beoordeel het. Ons spannetjie is goed afgerond deur Dougie, eienaar-sjef van die bekroonde eet-en-blyplek 22 Nama-Karoo op die buurdorp, Koekenaap.
Ons is natuurlik nie genooi weens ons Kokkedoor-optrede nie, maar omdat ons oud-Lutzvillers is, en dit laat die hart sommer warm klop om so deur ’n mens se “eie” mense vereer te word.
Ons ma is ’n boorling van Lutzville (hoewel die dorp reeds in 1923 dié naam gekry het, sê haar geboorte-sertifikaat nog Vlêrmuisklip), en met dié dat haar broer en twee van ons neefs in Lutzville woon, gee dit ons toe sommer ook die geleentheid vir heerlike Coetzee-familiekuier.
Neef Johan en sy vrou, Marlies, het vier kinders, maar die vier goedgemanierdes lyk toe heel min teenoor my wilde drie, veral toe hulle eers plaas ruik. Natuurlik het ek my skoene en grimeersak in die stad gelos. Inderhaas toe sommer R35-skoene by Pep Stores gekoop, Marlies se tienerdogters het my boskaas getem en met my aankoms by die geleentheid het Marinda met ’n perfekte rooi blerts my lippe afgerond.
Die vrees oor hoe ek my drie bloedjies (veral daai luidkeelse middel-een) in toom gaan hou ten tyde van die geleentheid, is gou besweer deur die familie-vriendelike Lutzvillers. ’n Aparte braai, met tuisgemaakte boerewors nogal, is gereël om alle kinders te voed. Springkastele, baie speelplek en ’n dorpie so veilig dat baie sommer vir hulle kinders agterin oop bakkies bedgemaak het, het gesorg vir ’n ontspanne atmosfeer.
Aan die Lutzvillers se kosmaakvermoë het ek nooit getwyfel nie (dit is immers waar my en Callie se kosverhaal begin), maar ek was steeds lekker verras oor hoe modern en slim elke span se spyskaart was.
Enige span wat 50 mense met heerlike warm kos in ’n straat kan bedien, is wenners in my oë, en ek wens ek het die plek gehad om elke gereg, en die uitvoering daarvan, hier op te noem. Hier is ’n paar wat uitgestaan het:
- Perfekte soesji as voorgereg.
- Tequila, met ’n bediengs-idee wat ek gaan steel, saam met ’n nacho-gebak.
- As tweede gereg was daar die sagste volstruisfilet op ’n kasjoeneut-roerbraai deur een span en ’n ewe lekker volstruisstuitjie, stadig flenters gekook, deur ’n ander.
- As hoofgeregte was daar beeswange in ’n rooiwynreduksie, beesfilet gegeur met koffie en ’n heerlike blomkoolpuree. Callie se gunsteling was steenbok met ’n verfrissende gestolde wortelslaai.
Alles was goed afgerond met onder meer ’n trio van sjokolademousse met rooswaterroomys en handgemaakte sjokoladehorinkies met Amarula-roomys.
Die kos was voortreflik en ek gaan my bes probeer om van die resepte in die hande te kry en volgende keer met jou te deel.
Ná ete, met die prysuitdeling, noem ’n effens emosionele Callie (seker goed aangehelp deur die heerlike Lutzville-wyne wat heelaand gevloei het), dat hoewel kos die fokus van die aand was, die regte wenners al die mense van Lutzville was wat saamgespan het om iets so unieks te vermag.
Enige dorp wat só kan saamkuier, almal se kroos en kinders ingesluit, is ryk en geseënd!!
MMM . . . MELKTERT
Lutzville is waar my ouma gewoon het, waar ek met skool begin het en waar ek ook my liefde vir melktert ontdek het. Melktert bly my gunsteling-ding, die laaste maal wat ek ooit wil hê.
Deur die jare het ek talle melktertresepte bymekaargemaak, maar voel dat my versameling nooit voltooi sal wees nie. Hier is drie van my gunstelinge.
MELKTERTSNYE
KORS
30 g botter
3 e (45 ml) suiker
2 eiers, liggies geklits
½ k (70 g) koekmeel
knypie sout
1 e (15 ml) bakpoeier
¼ k (65 ml) melk
VULSEL
8 k (2 L) volroommelk
50 g botter
1 kaneelstokkie
1½ k (300 g) suiker
6 eiers
½ k (70 g) koekmeel
1 k (120 g) mielieblom
knippie sout
1 e (15 ml) vanieljegeursel
KANEELSUIKER
½ k (100 g) suiker
½ t (2,5 ml) fyn kaneel
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n vierkantige pan van 30 cm of ’n groot oondbak en voer dit uit.
- KORS Klits die botter en suiker met ’n elektriese klitser tot lig van kleur. Voeg die eiers een vir een by terwyl jy aanhou klits. Onthou om die mengsel gereeld van die kante van die bak af te skraap.
- Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam in ’n aparte bak. Voeg dit by die bottermengsel. Voeg van die melk bietjie vir bietjie by tot ’n sagte, smeerbare deeg vorm. Smeer dit oor die boom van jou bak of pan. Hou eenkant.
- VULSEL Verhit die melk, botter en kaneelstokkie in ’n groot kastrol. Laat kook en verwyder dan van die hitte.
- Klits die suiker en eiers tot dik en romerig. Sif die koekmeel, meelblom en sout saam en voeg dit saam met die vanieljegeursel by die eiermengsel. Klits tot al die klonte verdwyn het.
- Voeg 1 k (250 ml) van die melkmengsel by en roer deur. Verwyder die kaneelstokkie van die melkmengsel. Voeg die eiermengsel by die kastrol vol melk terwyl jy aanhou roer. Plaas die kastrol terug op die hitte en hou aan roer tot dit begin kook.
- Giet die vulsel in die pan of bak en bak 35 minute.
- KANEELSUIKER Meng intussen die suiker en kaneel en sprinkel dit oor die tert sodra dit uit die oond kom. Laat afkoel en plaas in die yskas.
WEN! Hierdie resep kom uit my en Callie se boek Cakebread Pudding & Pie (Human & Rousseau). Twee lesers sal elkeen ’n eksemplaar van dié boek wen.
SMS MELKTERT, jou naam, adres en die antwoord op ons vraag na 34922 om vir die boek in aanmerking te kom. Die sluitingstyd is 17:00 op 10 Maart 2014. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer SMS as wat jy wil. Die borg is verantwoordelik vir die aflewering van die produk. Vraag Op watter dorp is Kokkeville gehou?
VLYTIGE MELKTERT
Dié melktert kry ’n windmaker-kragie. Die resep kom uit my en Callie se boek Markdag.
KORS
2 koppies (280 g) koekmeel, gesif
185 g koue botter, gerasper
¼ koppie (50 g) suiker
sowat ¼ koppie (65 ml) yskoue water
VULSEL
4 k (1 liter) volroommelk
60 g botter
½ k (70 g) koekmeel
1/3 k (40 g) mielieblom
2 t (10 ml) vlapoeier
knippie sout
1 k (200 g) suiker
3 eiers, geskei
1/3 k (80 ml) water
1 t (5 ml) vanieljegeursel
1 t (5 ml) amandelgeursel
2 t (10 ml) fyn kaneel
Voorverhit die oond tot 160 °C. Smeer 2 losboom-koekpanne van 23 cm elk.
- Meng die meel, botter en suiker tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die water bietjie vir bietjie by tot net-net gemeng.
- Verwyder die deeg uit die bak en vorm dit met jou hande in ’n sirkelvormige skyf. Bedek met kleefplastiek en plaas 20 minute in die yskas.
- Rol die deeg sowat 5 mm dik uit op ’n werkoppervlak wat met meel bestuif is. Voer die voorbereide koekpanne met die deeg uit en laat dit hoog teen die kante opstaan om ’n “kragie” te vorm.
- Plaas dit nog 20 minute in die yskas.
- Voer die binnekant van die deeg met bakpapier uit, vul die holte met droë bone en bak die deeg 10 minute of tot dit begin kleur kry. Verwyder die bakpapier en bone.
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Verhit die melk en botter in ’n kastrol tot net onder kookpunt.
- Sif die meel, mielieblom, vlapoeier en sout saam.
- Klits die suiker, eiergele en water tot lig van kleur.
- Voeg die droë bestanddele by die eiermengsel en klits tot gemeng.
- Stel die menger op lae spoed en voeg die warm melk geleidelik in ’n egalige straal by.
- Plaas die mengsel terug in die kastrol en kook tot verdik.
- Verwyder van die stoof en voeg die vanielje en kaneel by. Roer deur.
- Klits die eierwitte tot dit stywe punte vorm. Vou dit by die vla in.
- Verdeel die vulsel tussen die twee deegdoppe en bak 30 minute in die voorverhitte oond. Kyk ná 20 minute of die deeg nie te vinnig bruin word nie – indien wel, bedek die tert met aluminiumfoelie.
- Laat die melktert in die panne afkoel.
Wenk Wanneer jy losboompanne gebruik, is dit altyd ’n goeie plan om die buitekant van die pan in aluminiumfoelie toe te draai om te voorkom dat die pan in jou oond lek.
NIEMAND SE OUMA SE MELKTERT
Nog ’n reseppie uit Markdag: Ons goeie vriendin Bianca het fantastiese blog, Kitchen Vixen. In een van haar blogs het sy die spot gedryf daarmee dat almal in SA ’n “my-ouma-se”-resep het. Vir dié een het sy al die melktertresepte in haar familie gekombineer.
KORS
125 g botter, sag gemaak
½ k (100 g) suiker
1 pakkie (200 g) Tennis- of klapperbeskuitjies, fyn gekrummel
VULSEL
4 koppies (1 liter) volroommelk
125 g botter
1 vanieljepeul, oopgesny, skoongeskraap en saad behou
½ k (70 g) koekmeel, gesif
1 k (200 g) suiker
4 eiers, geskei
1 e (15 ml) fyn kaneel
Smeer ’n ronde 23 cm-koekpan of 2 emaljeborde. Voorverhit die oond tot 200 °C.
- KORS Verroom die botter en suiker saam tot lig van kleur. Voeg die beskuitjiekrummels by en roer tot gemeng.
- Druk die mengsel lig en eweredig oor die boom en teen die kante van die pan of borde vas om ’n egalige kors te vorm.
- VULSEL Giet 3 k (750 ml) van die melk in ’n groot swaarboomkastrol. Voeg die botter en vanieljesaad en -peul by en verhit. Roer af en toe om te keer dat die melk aanbrand. Haal van die stoof af en verwyder die peul.
- Meng die meel, suiker, eiergele en die res van die melk in ’n aparte bak. Roer tot dit soos pap lyk.
- Giet die warm melkmengsel geleidelik en in ‘n egalige straal by die eiermengsel en roer tot gemeng.
- Plaas hierdie mengsel terug in die kastrol en roer fluks oor matige hitte om klonte te voorkom.
- Laat dit oor die hitte verdik. Verwyder van die stoof en giet in ’n mengbak.
- Klits die eierwitte tot stywe punte vorm. Vou die eierwitte by die vla in.
- Giet die vulsel in die tertkors en sprinkel of stuif die kaneel bo-oor.
- Bak sowat 20 minute of tot die tert gestol het en die kors se rande goudbruin is.
Besparkingswenk Vervang die vanieljepeul en -saadjies met 1 t (5 ml) vanieljegeursel.
– Mari-Louis
Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.