Skeleton:
Spoedvrate sal mal wees oor dié sport, waar deelnemers blitsvinnig op hul maag teen ’n helling afgly. Die persoon word vasgemaak op ’n smal plankie en beheer sy plank deur die momentum wat hy opbou te gebruik en sy kop en skouers te draai.
Rodel:
As op jou maag afgly te gewaag klink, kan jy altyd op jou rug lê en die hellings so aandurf.
In dié item lê een of twee deelnemers binne die slee en jaag voete-eerste na die eindstreep.
Die deelnemers beheer die slee met hul beenspiere en kan teen tot 140 km/h gly.
Ysbal:
As jy ’n spannetjie met besems op die ys sien, moenie dink dis die skoonmakers nie. Dié sport vereis dat ’n span van vier swaar granietstene oor die ys gly. Die span wie se steen die verste trek, wen.
Spelers kan die steen in ’n rigting stuur deur dit te laat draai soos dit gly of voor dit uithardloop en die ys voor dit met die besem bewerk.
Tweekamp:
In Suid-Afrika is ons gewoond daaraan dat tweekamp swem en hardloop behels, maar op die Winterspele is tweekamp ski en skiet.
Die sport is afgelei van destydse weermagsopleiding vir Noorse soldate en deelnemers moet ’n skiroete voltooi en tussendeur teikenskiet. Vir elke teiken ’n deelnemer mis skiet, moet die deelnemer ’n ekstra 150 m ski of word ekstra tyd by sy/haar totaal gevoeg.
Die een wat die roete en teikens die vinnigste kan kafdraf, wen.
Mieke Vlok
Bron: www.topendsports.com