Elf jaar nadat Inge Lotz, ’n briljante Matie-student, wreed in haar woonstel vermoor is, is daar steeds wye belangstelling in dié saak.
Soveel só dat ’n debat tussen twee skrywers wat al boeke oor haar gru-moord neergepen het, gister ’n skoolsaal by die Franschhoek Literêre Fees volgepak het.
Maar dié skrywers se standpunte oor hoekom Inge se moordenaar nog op vrye voet is, kan nie verder van mekaar verwyderd wees nie en het vir ’n warm, robuuste debat gesorg.
Antony Altbeker, skrywer van Fruit of A Poisoned Tree, meen die polisie was onbevoeg en kwaadwillig toe hulle Inge se eertydse kêrel, die aktuaris Fred van der Vyver, verdink het.
Thomas Mollet – saam met sy broer, Calvin – die skrywers van Bloody Lies en Bloody Lies Too, is weer vasbeslote dat die polisie níé foute gemaak het met hul destydse ondersoek nie.
Inge se erg verminkte lyk is op die aand van 16 Maart 2005 deur Christo Pretorius, ’n mede-inwoner van die Shiraz-woonstelle in Welgevonden, Stellenbosch, ontdek.
Fred is in 2007 van haar moord aangekla, maar na ’n uitgerekte, opspraakwekkende hofsaak in November 2007 vrygespreek van die moord op prof. Jan en Juanita Lotz van Welgemoed in Kaapstad se enigste dogter.
![xx]()
Antony Altbeker en Thomas Mollet kon nie meer van mekaar verskil tydens die debat nie. Foto’s: Almari Wessels
Thomas het sy praatjie afgeskop deur daarop te hamer dat hy en sy broer wetenskaplik na die saak kyk en self die proefnemings behartig waarop hul die bewerings wat hul maak, grond. “Fred lewe nog en dit gaan goed genoeg met hom sodat hy vir homself kan praat,” het Thomas die debat mee ingelui.
Lees ook: Inge Lotz se ouers publiseer roerende boodskap op haar 34ste verjaardag
“Ek is nie hier om met jou te baklei nie,” het hy aan Antony, met wie hy al voorheen hewige meningsverskille in die media gehad het, gesê. “Dit gaan oor die waarheid – ek het ’n dogter, jy het dogters. As ’n moord gepleeg word, ontneem die moordenaar nie net die slagoffer van ’n lewe nie; hulle word van hul geliefdes weggeraap. Inge moes vandag 34 wees met kinders van haar eie en haar ouers moes al ouma en oupa gewees het.”
’n Groot foto van Inge en haar ma, Juanita, waarop hul albei breed glimlag is met Thomas se inleiding op ’n skerm vertoon.
Die omstrede vingerafdruk op die DVD-houer wat op die moordtoneel op ’n tafeltjie langs Inge gekry is, was in Thomas se visier. Hy glo vas ekspertgetuies het die hof mislei toe hulle aangevoer het dié vingerafdruk is van ’n glas gelig en is oortuig daarvan dat die polisie Fred se vingerafdruk wél op ’n plat oppervlak – dié van die DVD-houer – gekry het.
Of Fred op die herfsmoorddag in 2005 sy vingerafdruk op ’n DVD-houer in Inge se woonstel gelos is, is sedert die 10-maande-moordverhoor in 2007 veelbesproke en omstrede.
Die kritiese belang van die vingerafdruk op die DVD-houer skuil daarin dat Inge die DVD The Stepford Wives eers om 15:07 op die middag van haar moord by The DVD Place in die Simonsrust-winkelsentrum in Stellenbosch gaan uitneem het. Indien haar eertydse kêrel en moordbeskuldigde Fred se vingerafdruk op die DVD-houer is, was hy op die moordtoneel.
En dít het hy ten sterkste in die hof ontken.
Lees ook: Inge Lotz-moord spook elf jaar later nog
Kenners verskil oor of dié vingerafdruk van ’n geronde of plat oppervlak gelig is en daarom het die staat reeds voor die aanvang van die moordverhoor besluit om die vingerafdruk as bewysstuk te onttrek. Dit het egter steeds sy weg tot in die hofsaak gevind waar regter Deon van Zyl dit eindelik in sy uitspraak tog as bewysstuk verwerp het.
Antony, wat stil en bedeesd na Thomas geluister het, het uit die staanspoor onomwonde verklaar: “Nee, Fred het Inge nie vermoor nie,” en die Molletts aangevat oor hul amateurs en nie forensiese wetenskaplikes is nie en hulle daarvan beskuldig dat hul teenstrydige bewyse ignoreer en dat van hul bevindings hoogs onwaarskynlik en onlogies is.
“Fred het verskeie ooggetuies gehad wat sy alibi bevestig het: Hy was op die middag van Inge se moord by Old Mutual, sy werksplek, en as ’n relatiewe nuwe werknemer het hy vergaderings gehad waarin sy baas en sy baas se baas teenwoordig was. Hoekom sou almal hieroor jok? Dit is hoogs onwaarskynlik dat al hierdie ooggetuies sou saamsweer om te jok,” het Antony teruggekap.
Hy het ook vrae gehad oor hoekom Fred se vingerafdruk dan gerieflikheidshalwe die enigste vingerafdruk op die DVD-houer sou wees as die polisie dit dan wel van dié oppervlak af gelig het. “Hoekom is Inge se vingerafdruk nie op die DVD-houer nie en ook nie die winkelassistent by wie sy die DVD uitgeneem het nie? Hoekom is net Fred se vingerafdruk hierop?” het Antony gevra en opgesom dat dit nie saak maak of die Molletts reg of verkeerd is oor die vingerafdruk nie.
Konstabel Elton Swartz – wat destyds die vingerafdruk gelig het – het al drie verskillende weergawes oor hoe hy die afdruk bekom het, gehad en die polisie is gedwing om die vingerafdruk as ’n bewysstuk te onttrek omdat hulle die proses opgemors het.
So stil en bedeesd as wat Antony was toe Thomas aan die woord was, só duidelik ontstoke was Thomas met Antony se beurt en hy het hom ooglopend verskeie kere vervies vir Antony se argumente.
Ten slotte het Antony gevra hoekom dit nooit bewys kon word dat Fred sy werksplek verlaat het nie; hoe hy so kalm kon optree indien dit wel ’n intense passiemoord was en hoekom Fred die ornamentele hamer en sy tekkies sou hou as hy wel die moord gepleeg het?
Marianne Thamm, die veteraanjoernalis wat die debat gelei het, het haar hande volgehad met dié vurige menings en toe die uurglas vir die praatjie eindelik leegloop, het sy aan die gehoor gesê as hul graag meer wil weet, moet hulle die skrywers se onderskeie boeke te lees.
’n Uur-en-’n-half is duidelik nie genoeg om ’n slotsom te bereik oor ’n moord wat al vir meer as elf jaar by Suid-Afrikaners spook nie…
Lees ook op Huisgenoot.com:
En daar ontaard Riaan Cruywagen in ’n kranige worsrolbakker!
Graad 9′s: Moenie besluite oor die keuse van vakke tot op die nippertjie uitstel nie
Joernalis gebruik sy liefde vir die sport om belowende krieketspelers se drome te bewaarheid
Seldsame kwaal laat vrou tydelik verlam elke keer as sy wakker word
Huisgenoot-joernalis wen ATKV-Mediaveertjie, internasionale prys in een week