Maak geskenke, kaartjies en dekoritems vir jou huis met hierdie veelsydige kleeflint wat in elke kleur en ontwerp onder die son te kry is. Hier is ’n paar inspirerende idees wat ons blogger vandeesweek op Pinterest raakgeloop het.
EK IS verslaaf aan Washi-lint. Die oomblik as ek toegee aan die drang om ’n rolletjie te koop, is ek verlore – kort voor lank koop ek nog een, en nog een, en nog een . . .
Tot dusver het ek nog nie eintlik veel met hierdie wonderlik kleurryke kleeflint uitgerig nie, behalwe om die buiterand van ’n kombuiskas af te werk en ’n paar presente op te tert. Ek hou net baie daarvan om dit om my te hê. Maar die oulike idees wat ek vandeesweek op Pinterest raakgeloop het, is genoeg om enigeen te inspireer om ’n bietjie van Washi-lint se toorkrag te beproef.
1 Tik-tok
’n Mens kry Washi-lint in miljuisende kleure en ontwerpe en jy kan dus dekoritems skep wat perfek by jou huis se kleurskema pas. Ek is gek oor hierdie helder klein reiswekker – en jy kan dieselfde beginsel op groter kombuishorlosies ook toepas. Kry aanwysings hier.
2 Mooie matjies
Dié drupmatjies kan lieflike tuisgemaakte Kerspresente of trougas-geskenkies uitmaak – of jy kan vir jou huis ’n stel maak met jou gunsteling-Washi-ontwerpe. Die lint self is taamlik broos en daarom moet jy vir dié soort projek waterdigte seëlaar of waterdigte modge podge (kunsgom) oorverf om seker te maak die matjies oorleef die eerste nat ring van ’n koue glas.
Begin deur SupaWood-drupmatjies (te kry by handwerkwinkels) of klein keramiekteëltjies soos in die middelste foto te koop. Of kikker verslete ou matjies op – was hulle goed om van die vetterigheid ontslae te raak en maak dan goed droog, anders gaan die lint nie kleef nie. Wend Washi-lint in die patroon van jou keuse aan. Verf ’n laag waterdigte verseëlaar of heelparty lae waterdigte modge podge oor en laat dit tussen lae droog word. As jy teëls gebruik het, kan jy agterna selfklewende viltkussinkies aan die onderkant vassit sodat dit nie jou meubels krap nie.
3 Slim laaiversierings
Wat ’n oulike idee. Die blogger Jess@craftinessisnotoptional het Washi-lint op die laai-voorkante van ’n kassie in haar handwerkkamer vasgesit. Dit sal net so goed op soliede laaie werk – maak net seker jy verf die lint agterna met ’n hele paar lae verseëlaar soos modge podge. Laat tussen die lae droog word en skuur agterna liggies af.
4 Gelukkige spruit
Gee jou verbeelding vrye teuels deur jou kind se naam in SupaWood-letters by ’n handwerkwinkel te koop en dit met Washi-lint te versier. Omdat julle dit waarskynlik nie sal hanteer nie hoef jy nie noodwendig verseëlaar aan te wend nie, maar dit sal help voorkom dat die randjies van die lint later opkrul. Een laag verseëlaar of modge podge behoort genoeg te wees.
5 Stylvolle geskenke
Die swart-wit ontwerp op die kaart links maak slim gebruik van die feit dat Washi-lint deurskynend is. En om dit met ’n knip aan die geskenk vas te sit is so kreatief. Die rooi kaartjies regs is perfek vir Kersfees – en die gekleurde slagterstou rond die voorkoms perfek af.
6 Goed geklede kerse
’n Lieflike partytjie-idee. Laat goedkoop teeliggies by jou partytjietema pas met die eenvoudige byvoeging van ’n strook Washi-lint.
7 Nota bene
Kyk hoe fantasties is dié Washi-lint-aantekeningboekies met bypassende potlode! Dis geskep deur die blogger Lia Griffith – klik hier vir aanwysings.
8 Hoe jy dit ook al sny
Jy kan sommer maklik sien Washi-lint is in stroke op die pot regs geplak. Maar wat van die ander pot en die vaas? Die vuurwerk-ontwerpe is geskep deur Washi-lint in dun strokies te knip en dit in ’n straalpatroon te rangskik. As jy wil hê die voorkoms moet hou, sal jy dit moet verseël soos by nommer 2 hierbo verduidelik.
9 Dis myne daai!
Maak ’n einde aan argumente oor aan wie die laaier behoort deur joune met jou gunsteling-Washi-lint te versier. Of sit passende lint aan albei kante van elektriese drade vas om al die gepluk te voorkom wat plaasvind as jy een van ’n hele klomp elektriese items op die multiprop probeer uitprop.
10 Koop jou Washi-lint aanlyn
Ek is mal oor hierdie aweregse swart-wit ontwerpe. Dis een van heelparty pakkies met drie rolletjies Washi-lint (R116 per pak, verpakking en posgeld ingesluit) wat nou deur ons aanlyn-winkel Spree verkoop word. Klik hier en gaan reguit na die dekor-aanbod in die heerlike nuwe geskenke-afdeling.
HET JY MOOI WASHI-SKEPPINGS?
Het jy al iets pragtigs met Washi-lint gedoen? Stuur asseblief jou foto sodat ek dit met ons aanlyn-gemeenskap kan deel. Stuur die e-pos na asteyn@media24.com.
– Alfie Steyn
Volg Huisgenoot op Pinterest
Kyk na Alfie se ander Pinterest-gunstelinge by:
12 maniere om vetplante uit te stal
8 idees vir jou eie prentegalery
Hoe lyk dit met cilantro? Of arugula?
Vyf blink planne op Pinterest: trosligte
Inspirasie van Pinterest vir ’n gesonder jy